HA!Man betower op planke


Plek-plek op die platteland slyp die improvisasiekunstenaar Francois le Roux alias Ha!Man sy towerstaf met tjello en klavierklanke met die oog sywaarts in die rigting van meer toneelspeel. Francois is steeds landwyd te sien in die toneelstuk Die goue seun oor die lewe van Uys Krige.

Die Burger-Kanna vir die beste bydrae tot ernstige woordkuns en toneel is op die onlangse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aan diT werk toegeken. Dit was die eerste keer dat hy op ``formele'' vlak toneelgespeel het.

"Ek sit gewoonlik maar aan die kant met my tjello en musiek maak. Dit was toe nie so moeilik om akteur met woorde te speel as wat ek gedink het nie.''

Sy betrokkenheid by Die Goue seun, met Marthinus Basson in die regisseur-stoel, het sy lus vir meer toneelspeel aangewakker.

"My spesialiteit is spontane werk. Formele teater is soos 'n spiedl waarin ek kan kyk en meet waarmee Tk besig is.''

Op die KKNK het hy in die orkes gespeel vir die stofopera Rooikoppitjie . Hy het nog nie iets van sy eie Oudtshoorn toe geneem nie. Op vanjaar se Grahamstadse Kunstefees speel hy orrel in van die toneelstukke. In die stuk A Cure for Madness doen hy wat hy die beste kan doen; improviseer met sy lyf.

Francois tree op saam met twee akteurs wat verlede jaar in Andrew Buckland se treffende feesstuk Makana gespeel het. Buckland het van Francois se tjello, klavier en elektroniese musiek gebruik gemaak in die stuk.

Hy het sy eenmanstuk Birth by die fees gehad. Vanjaar span hy in Madness met drie ander akteurs saam om in die ruimte van 'n malhuis op 'n soektog te gaan.

"Die stuk is baie vry; met scenario's en interessante karakters. Ons kom nie by 'n letterlike geneesmiddel vir malligheid uit nie."

Afwykende mense word hier teenoor die "normale'' mens gestel.

"'n Transendentale figuur is alom teenwoordig. Een van die karakters hoor hom praat. As hierdie karakter na ander gekanaliseer word, word dit 'n malligheid waarby ander kan baat vind.''

Francois hou van uitdagings. Hy meen sy musiek is reeds goed gevestig. Talle klankbane spog met sy herkenbare afdruk. Op 31 Julie hoor gaste sy werk by die toekenningsgeleentheid vir die Vrou van die Jaar in Kunstekaap, Kaapstad. Op televisie het hy gesorg vir musiek in die dokumentOr People of the Gariep en 'n program oor egskeidings.

Hy was vandeesweek deur die Karoo op reis om plekkies soos Cradock aan te doen en sy eiesoortige vertoning aan te bied. "Dit is 'n goeie leerskool vir my wat besig is met spontane werk. Op die platteland is mense dikwels uitgehonger en ontvanklik vir iets nuuts. Jy kan jou act slyp op mense wat dit waardeer.''

Kinders was gaande oor Francois se werksessie "Hoe om die muse te hoor" op die onlangse Skolefees in die Baai. Thanbikhaya Daniels het gesO: "Ek dink wat jy doen, is wonderlik . . . eendag sal ek graag wil doen wat jy doen.''

Francois het 'n duidelike missie: "Wat die toekoms betref, is ek verby die punt dat ek voortdurend groot sukses wil behaal. Ek wil gewoon die kanaal wat in my wese geslyp geraak het, van dag tot dag gebruik om kuns in klank weer te gee, om mense saam te snoer met gesonde en openhartige estetiese ervarings.''


Pieter van Zyl, Die Burger, 21 Junie 2002

.
 


hamanworld.com