Suid-Afrika se HA!Man


(Suid-Afrika se) HA!Man Francois le Roux, beter bekend as die HA!Man, is werklik 'n unieke kunstenaar. Die Suid Afrikaanse mark is oorvol met maatskappygedrewe kunstenaar-idees en bemarkingsfoefies. Nou en dan styg 'n kunstenaar uit met iets unieks, iets wat die hoofstroom so bietjie laat buig.

Die HA!Man is 'n klassiek opgeleide tjellis. Hy kombineer die tjello met elektroniese klanke en die fokus val op spontane musiek, wat 'n verskeidenheid van style betrek, Afrika ingesluit. As jy ons uitgawe met 21 musikante op die voorblad onder od gehad het sal jy hom onthou. Hy was die enigste kunstenaar op ons voorblad wat werklik baie oorsee optree. Met oorsee word nie bedoel Afrikaanse pubs in London nie: ons praat van New York tot Seoul, Europa tot Lesotho (hy bedryf self sy loopbaan en reis sowat 70 000 km per jaar).

Die HA!Man tree nie net op nie, maar bied ook werkswinkels in spontane kreatiwiteit aan, waar daar gewerk word met musiek, dans, teken, digterlike spraak en sang. Groepe van 20 tot 50 kan dit bywoon. Hierdie werkswinkels is werklik vir enige groep mense, korporatief, voorskools, gestremde mense tot studente. Daar is ook die opsie om 'n reeks werkswinkels te redl, dit geskied oor 2 of 3 dae en eindig met 'n konsert saam met die HA!Man.

As jy vertroud is met Bobby Macferren van "Don't Worry Be Happy" faam sal jy 'n basiese idee hO wat Francois le Roux alles doen. Behalwe vir sy musikale briljansie, hy het al meer as 700 snitte opgeneem wat klankbaanmateriaal, 'n paar songs, improvisasies met verskeie ander kunstenaars en akoestiese konserte insluit. Sy nuutste klankbaan-opdrag is vir 'n opkomende dramatiese dokumenter oor die Knysna olifante (E.TV). Sy musiek is ook in Julie bekendgestel by die Teramo Open City Festival in Italie, as een van vyf vooraanstaande jong komponiste uit vyf verskillende lande.

Die HA!Man word deesdae bygestaan deur Larha! (Laura Kirsten), 'n klassieke pianis wat in 'n digter, spontane musikant en ook danser ontwikkel het. Saam verseker hierdie twee kunstenaars jou soveel meer as net nog 'n doef-doef sokkie aand of braaivleistreffers.

Jy kan hom nou en dan raakloop op Litnet se vuurwarm debatportaal, SOnet. Sy briewe is gewigtig en intellektueel uitdagend. Hierdie eertydse teoloog en filosoof is veelsydig en al herhaal ek dit weer, baie uniek.

In Meimaand het 'n groep sakemense tydens die Prince of Whales Business and Environment Programme 'n fonds aan die gang gesit om die HA!Man te steun met sy werk in minder gegoede gemeenskappe. Die fonds word deur die Novalis Instituut in Kaapstad bedryf. Vir meer inligting, asook videos van die HA!Man in aksie, besoek sy webwerf by www.hamanworld.com. Jy kan ook hier inskryf op sy nuusbrief "HA!News" om by te bly met die konstante vloei van optredes, werkswinkels, projekte en interressante skrywes oor aktuele sake. Miskien maak jy ook 'n HA!-ontdekking!


Louine van der Vyver, De Kat tydskrif, 6 Augustus 2008

.
 


hamanworld.com